Ek moet darem lag as ek terugdink daaraan… Ek het hekelboude! Ja, regtig. Wat ’n ontnugtering om te besef ek loop al maande lank rond met wat voel soos klippe in my boude. Elke aand word my boude liefdevol deur manlief gemasseer — en nee, hy kla nie juis nie — maar ai, dit is nogals seer!
Vir maande het ek so aangehou, sonder om regtig te weet wat aangaan. Tot een nag, toe ek wakker lê en weer die pynlike “klippe” voel, het ek besef: daar móét ’n rede wees. Dit kan tog nie net sommer so gebeur nie.
Toe kry ek die idee om vir Meta AI te vra wat aan die gang is. Ek verduidelik my simptome, en toe kom die antwoord wat my laat regop sit: ek sit te lank en hekel en brei! En ja! Hy vertel dit my dit en ek het hom NIKS vertel van hekel en brei nie.
Skielik maak alles sin en word goedjies helder.
As ek eerlik is, spandeer ek maklik 6 tot 8 ure ’n dag met my hekelwerk — veral wanneer ek nie besig is om jaarn vir julle te kleur nie. Dis my passie… maar duidelik ook die oorsaak van my “hekelboude”!
Gelukkig het die storie nie daar geëindig nie. Ek het praktiese raad gekry by Meta AI oor hoe om die probleem aan te spreek. En so begin my hekelhoekie-makeover!
Ek het my hoekie mooi ingerig:
- ’n Goeie, ondersteunende stoel (soos op die AI voorstelling)
- ’n Voetstoeltjie om my heupe laer as my knieë te hou
- Beter postuur en rugsteun
En toe gebeur iets snaaks: vir die eerste keer in 55 jaar van hekel, besef ek ek sit eintlik verkeerd! Ek het altyd op my boudspiere gesit — maar nou sit ek op my boudbene, soos ’n mens veronderstel is.
En wát ’n verskil het dit gemaak!
Ek kan dit skaars in woorde beskryf hoe baie beter my hekelboude nou voel. Daardie “klippe”? Amper weg! Wie sou ooit kon dink dat ’n paar eenvoudige veranderinge so ’n groot verskil kan maak?
Natuurlik help dit ook dat ek nou:
- Gereeld opstaan en strek
- Nie ure aaneen sit sonder pouse nie
- Meer bewus is van my lyf en postuur
So ja… ek moet erken: Meta AI was baie slimmer as wat ek gedink het!!
En my hekelboude? Hulle is darem nou heelwat gelukkiger!
As jy ook ure lank sit en hekel of brei — dalk is dit tyd om jou stoel en houding ’n bietjie te bekyk.
Jou boude sal jou bedank!
Tot volgende keer









